Description
Aanvallers het ’n Pretoriase vrou in die bad oorval, waarna sy gesien het hoe hulle haar man vier keer in die bolyf skiet.
Mnr. Bruno van Staden (66), ’n pensioentrekker, is in sy slaapkamer op ’n hoewe in Kameelfontein, noordoos van Pretoria, dood.
Sy vrou, Alexis (55), is nie beseer nie.
Lt.kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê dieselfde groep van vyf mans wat Van Staden eergisteraand doodgeskiet het, het vermoedelik vroeër die middag ’n tuin- en huiswerker op die hoewe langsaan oorval.
Hulle het die twee in ’n koelkamer toegemaak en juwele uit die huis geroof. Op pad uit het hulle die sak met juwele laat val, het Dlamini gesê.
Inwoners van Kameeldrift, wat Kameelfontein insluit, het ’n paar jaar gelede gebuk gegaan onder ’n vlaag van misdaad. Dit was so erg dat mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, die gebied in 2008 besoek het en opdrag gegee het dat ’n spesiale taakspan aangestel word om die moorde en gewapende rooftogte te ondersoek.
Die misdaad het afgeneem, maar die laaste paar weke weer opgevlam.
Mnr. Johan Lamprecht, die Van Staden-egpaar se skoonseun, het gister gesê sy skoonouers woon in ’n woonstel op die hoewe. Langs hulle woon hul seun, ook Bruno, en agter hulle hul kleinseun, mnr. Juan-Gé Lamprecht.
Volgens Lamprecht sr. het iemand eergisteraand omstreeks 19:30 aan sy skoonouers se deur geklop.
Mnr. Van Staden het die deur oopgemaak, “want hy was iemand wat sou oopmaak as jy aan sy deur klop en vir jou kos sou gee as jy vra”.
“Een van die mans het hom (Van Staden) met ’n vuurwapen aangehou.
“Hulle is toe na my skoonma toe wat in die bad gesit het. Hulle het haar mond toegedruk en gesê sy moet uitklim en aantrek.
“Dit is nie heeltemal duidelik wat toe gebeur het nie, maar dit lyk of my skoonpa sy vuurwapen probeer vat het.
“Hulle het hom op ’n kort afstand geskiet. Hy is vier keer getref.
“Dit het alles voor my skoonma gebeur. Sy het dit sien gebeur.”
Volgens Lamprecht sr. het die mans met Van Staden se vuurwapen en twee selfone gevlug.
Lamprecht jr. het die skote gehoor en na sy oupa en ouma se woonstel gehardloop.
Mev. Van Staden het hom aangesê om sy pa en die polisie te bel.
Paramedici het meer as ’n uur vergeefs gesukkel om Van Staden te red.
| Credibility: |
 |
 |
0 |
|